Met die afsterwe van Sampie Terreblanche het ’n groot en belangrike stem teen onreg stil geword, skryf Murray La Vita.
Die Stellenbosse ekonoom en emeritusprofessor Sampie Terreblanche, wat op 17 Februarie in die ouderdom van 84 aan breinkanker gesterf het, het hom vir die grootste deel van sy lewe in sy werk en andersins uitgespreek teen die uitbuiting van arm, hoofsaaklik swart, Suid-Afrikaners.
In ’n onderhoud op 16 April 2014 oor sy boek Verdeelde Land – Hoe die oorgang Suid-Afrika gefaal het, het hy met ’n stem skor van ontsteltenis gesê dié toedrag van sake gee hom koue rillings.