’n Blywende indruk – dis wat Sampie Terreblanche gelaat het.
As student kon ek kwalik deur die vlamme en rook van my eie storm en drang sien. Die establishment het in die vroeë 90’s ’n bitter nare klankie gehad en vir my was die meeste dosente op Stellenbosch ’n baie ongeloofwaardige deel daarvan. Maar Sampie se lesings het ek nooit vergeet nie. Hy het my aandag gehou en laat voel dat ek veel meer aandag behoort te gee – nie net aan my eie frustrasie en begeertes nie, maar aan die spesifieke maniere waarop dinge vir die meeste mense in hierdie land nie werk nie.