Prof. emeritus Colin McCarthy, kollega in die Stellenbosch Department van Ekonomie
Talle ekonome wat op Stellenbosch studeer het, sal dikwels een ding beklemtoon: dis aan Sampie Terreblanche te danke dat hulle besluit het om nagraads met ekonomie verder te gaan. Al het sommiges van hom verskil wat ekonomiese denke betref, het sy entoesiasme as dosent en prikkelende lesings in ‘n ononderbroke dienstyd van 54 jaar, en sy uitdaging aan studente om krities te dink, nuwe denkwêrelde vir hulle oopgemaak. Dis moelik om ‘n groter kompliment vir die bydrae van ‘n senior kollega te bedink.
Sampie Terreblanche het in 1957 sy M.A. in ekonomie met lof aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf, die universiteit waar hy in 1952 as eerstejaar–regsstudent ingeskryf het. Hy het ‘n pos as dosent in ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein aanvaar. Hier het hy tot 1964 klas gegee, eers as lektor en daarna as senior lektor.
In 1965 is hy met ‘n aanstelling as senior lektor terug na sy alma mater en in 1968 word hy as professor in ekonomie aangestel, ‘n pos wat hy tot sy formele aftrede in 1995 beklee het. Maar die klem val hier op “formele” aftrede, want om volledig as dosent uit diens te tree, was vir Sampie en sy kollegas ‘n vreemde gedagte. As emeritusprofessor het hy ‘n verdere 15 jaar studente die voordeel van sy voor-en nagraadse lesings gegee. Met so ‘n lang dienstyd was dit nie ongewoon dat ‘n grootouer, ouer en kind in sy klas gesit het nie.
Dis nie vreemd dat dosente in ekonomie ‘n tyd in betrekkings buite die akademie deurbring nie. In Sampie Terreblance se geval het dit nie gebeur nie. Hy is en was altyd ‘n akademikus in murg en been, iemand wat vir die beroep in die wieg gelê is. Dit sorg nogal vir ‘n komiese oomblik as jy Sampie in jou verbeelding sou voorstel as ‘n staatsamptenaar, en dan nog erger, in ‘n uitvoerende pos in die private sektor.
Duisende oudstudente kan getuig van die geesdrif waarmee Sampie sy lesings dekades lank aangebied het, nie dat almal altyd presies verstaan het wat “in hierdie ondermaanse bestaan” beteken nie. Sy studieveld is ekonomiese geskiedenis, die geskeidenis van ekonomiese denke en ekonomiese stelsels en hierdie velde het hy skerpsinnig aangebied. Dis bekend dat Sampie met ‘n kritiese oog na die kapitalisme kyk en sy kritiek het hy nog altyd duidelik bekendgemaak. Dit het daartoe gelei dat hy deur sommiges ‘n “sosialis” beskryf is. Daar is niks mee verkeerd om ‘n sosialis genoem te word as jy wel een is nie, maar in Sampie Terreblanche se geval is so ‘n benaming misleidend. Die feit dat jy strukturele gebreke in die kapitalistiese stelsel en in markgedrewe ekonomieë as ‘n probleem uitwys, soos Sampie konsekwent doen, maak nie van jou ‘n sosialis nie.
Een ding van Sampie wat sy kollegas altyd opgeval het, was sy vreesloosheid in die gesig van kontroversie en selfs hewige kritiek. In die Departement het ons as kollegas dikwels gedink dat ons in ons doppe sou kruip as so ‘n polemiese storm rondom ons sou losbars. Maar nie Sampie Terreblanche nie. Soms het ek die indruk gekry dat hy dit selfs geniet, argument teen argument, maar nooit persoonlik nie, in die goeie tradisie van kritiese diskoers.
Aan opponente het dit nooit ontbreek nie. Daar was altyd meningsvormers aan die ander kant van die argumentskeidslyn. Wat dit veral interessant gemaak het, was die feit dat Sampie se eie politieke affiliasie en denke oor tyd verander het. Eers was hy stewig in die kamp van Nasionale Party, weliswaar deel van die ‘verligte spesie’, maar die onreg en onwerkbaarheid van apartheid het hom eers deel van die onafhanklike beweging gemaak en uiteindelik ‘n stigterslid van die Demokratiese Party. Met verloop van tyd het hy egter ‘n waarnemer van die politiek in Suid-Afrika geword wat sonder ‘n party-politieke affiliasie ‘n kritiese blik op die Suid-Afrikaanse politieke ekonomie gewerp en daaroor geskryf en gepraat het. Na 1994 het ‘n gedemokratiseerde Suid-Afrika hom steeds as ‘n ‘wagter op die mure’ gevind, iemand wat vreesloos die meerderheidsregering se onreg teenoor die arm swart meerderheid en, vir Sampie, die onheilige alliansie tussen die regering en die sake-sektor onder die soeklig geplaas het.
Sampie Terreblanche se verandering van politieke denke en affiliasie is ook in sy openbare diens weerspieël. As deel van die establishment was hy van 1972 tot 1987 ‘n lid van die SAUK se Raad en van 1979 to 1985 lid van die regering se Ekonomiese Adviesraad. Sampie was deurgaans ‘n ywerige en prolifieke briefskrywer wat gereeld in polemieke in Die Burger se meningskolomme betrokke was. Maar die mees sigbare wending in sy politieke denke wat koerante betref, was sy betrokkenheid by Vrye Weekblad, daardie vars bries in die Afrikaanse joernalistiek van destyds. Hy was op die raad van Wending Uitgewery, uitgewer van Vrye Weekblad en het elke twee weke ‘n rubriek in die koerant, Tuynshuis Monitor, geskryf. Die eens invloedryke lid van die Nasionale Party establishment het sy openbare diens aan die ander kant van die politieke spektrum voortgesit toe hy van van 1991 tot 1996 ‘n lid was van die Taakgroep oor Ekonomiese Sake van die Raad van Kerke en toe hy in 1997, op versoek, voor die Waarheids – en Versoeningskommissie getuig het oor die rol van die SAUK, die media en van die sakesektor gedurende die apartheidsjare.
In die Departement het ons sy politieke wendings en sienings met belangstelling gevolg, synde dan ook baie goed daaroor ingelig tydens teekamer- en kantoorgesprekke. Deur al die jare het ek ‘n belangrike les geleer. Daar was twee senior professore in die Departement, Jan Sadie en Sampie Terreblanche. Ek het albei goed geken en was deeglik bewus dat hulle oor wesenlike aspekte van die ekonomies-politieke debat verskillende menings gehad het. Maar nooit het ek gehoor dat hulle ernstig verskil en, wat so dikwels in die akademiese wêreld gebeur, mekaar kil en selfs vyandig behandel het nie. Ek kan my nie enige geleentheid herinner dat die een iets negatief teenoor die ander in my teenwoordigheid kwytgeraak het nie.
Wat die beste in Sampie na vore gebring het, was toe hy as lid word van die Erika Theron Kommissie (1973-76) – wat sake rakende die Kleurlingbevolkingsgroep ondersoek het – en as voorsitter van die Kommissie se Werkgroep oor Ekonomie en Arbeid opgetree het. In die Departement, destyds maar baie klein in dosente-getal, het ons sy entoesiame ervaar en gereeld aangehoor. Vir ons as kollegas was dit duidelik dat die Kommissie se werksaamhede vir Sampie ‘n intellektuele en politieke waterskeiding was, die eerste, maar belangrike stap om van die ou bedeling in Suid-Afrika afskeid te neem. Ironies genoeg is hierdie belangrike kommissie se werksaamhede gedryf deur die voorsitter van die kommissie, Erika Theron, Professor in Maatskaplike Werk aan die US met haar kantoor aan die westelike kant en Sampie Terreblanche, Professor in Ekonomie met sy kantoor aan die oostelike kant – en nogal van alle plekke, in die Verwoerd-gebou.
Sampie se betrokkenheid in die politieke ekonomie diskoers het natuurlik neerslag gevind in sy lesings. Hierin het hy dikwels duiwelsadvokaat gespeel en soms sommer fiktiewe stories opgemaak om kleur te verleen en kritiese denke te bevorder. Sommige studente het dit nie gesnap nie. In een lesing het Sampie die studente vertel dat hy genooi is om Brasilië toe te gaan om deel te hê aan ondersoeke na dié land se probleme wat baie soos dié van Suid-Afrika was. ‘n Student, seun van ‘n prominente kabinetslid, het dit nie gesnap nie, tot latere verleentheid vir Sampie. By ‘n sosiale geleentheid in Kaapstad het die minister en sy vrou vir Sampie vertel hoe spyt hulle is om te hoor hy verhuis Brasilië toe!
Een van my aangenaamste herinneringe is ‘n besoek van ‘n groep Stellenbosch dosente aan Harare in die laat 1980s. Sampie is ook saam en so ook ‘n aantal teoloë. Wat ek spesifiek onthou was Bruce Springsteen se konsert die aand in Harare, ‘n konsert wat uit protes teen die Suid-Afrikaanse bewind in Zimbabwe gehou is en deur duisende jong Suid-Afrikaners bygewoon is. Ons is die middag na die Kubaanse Ambassade waar ons onder andere op ‘n mooi manier verduidelik is dat hulle eintlik die Slag van Cuito Cuanavale gewen het. Die geselskap is aangehelp met lekker drankies wat ek dadelik as redelike sterk rum mengeldrankies kon uitken. Die teoloë het lekker gekuier en is die volgende aand terug vir ‘n opvolgbesoek. Die organiseerders van ons besoek kon egter ‘n paar kaartjies na die Springsteen konsert reël en ek en ‘n paar kollegas het besluit ons gaan eerder soontoe, Sampie inkluis. Was ons verbasing groot toe ons op pad konsert toe Sampie hoor vra: “Wie is Bruce Sprinsteen?” Ons het die aand baie geniet, Sampie seker by sy eerste en enigste rock konsert.
Hy mag nie veel van popmusiek weet nie, maar van sport, veral rugby en krieket, weet Sampie baie. Ek glo nie hy was ooit self ‘n bedrewe sportman nie, maar sy belangstelling in sport was aansteeklik. Ek herinner my menige Maandagoggende wat hy en kollega Pierre de Villiers indringend die vorige Saterdag se wedstryd van WP bespreek het, en Sampie kon altyd ‘n akkurate terugskou lewer oor waar dinge reg of verkeerd verloop het.
Op 17 April vier Sampie Terrebalche sy tagtigste verjaarsdag, maar sy vuur is lank nog nie geblus nie. Hy skryf steeds en sal vanjaar sy elfde boek die lig laat sien. Min mense kan hom dit nadoen.
Prof. emeritus Willie Esterhuyse, kollega en vriend – Sampie, my Voltaire-vriend
Daar word soms gesê dat Italië die Renaissance en Duitsland die Hervorming gehad het. Frankryk het Voltaire gehad, ‘n kritikus by uitnemendheid wat die fondasies van die establishment op ‘n meedoënlose en onverskrokke manier ondermyn het om te bepaal of dit stewig en aanvaarbaar was.
Ek dink aan Voltaire as ek aan Sampie dink. Suid-Afrika, haar universiteite, geloofsbewegings, skrywers, intellektuele en dies meer het baie kritiese geeste opgelewer. Ons land – en Stellenbosch – het ook vir Sampie gehad. Ek ken hom vanaf 1974. Trouens hy en Hennie Rossouw was daarvoor verantwoordelik dat ek en Annemarie ‘n huis in dieselfde straat as die Terreblanche-gesin gekoop het.
Die sewentigers en veral tagtigerjare was ontstuimige jare in ons land se geskiedenis. In 1976 het die swart jeug van Suid-Afrika in skole en strate met gebalde vuiste, brandende motorbande, stokke en klippe standpunt ingeneem: genoeg is genoeg. Apartheid moet vernietig word. Dit was ‘n keerpunt. Ek onthou dat ek, hy en Hennie in sy huis in Rowanstraat gesit en praat het. Aldrie van ons was hoogs bekommerd, selfs bedruk. Ons het gewonder: “Wat hou die toekoms vir ons kinders in?”.
Dit was Sampie wat gesê het: “Wat van die swart mense se kinders? Hulle toekoms? Ons moet iets doen!”.
Dié gesprek, en Sampie se vraag – met ‘n diep frons op sy voorkop as beklemtoning van die erns van die saak – was een van die redes waarom ek my jare later by die Stedelike Stigting aangesluit het.
Sampie se vraag: “Wat van swart mense se kinders?” het my om verskeie redes uiters onrustig gestem. Die belangrikste hiervan was die wete dat die toekoms van my kinders asook die toekoms van my land nie deur koeëls en kruit bepaal sal word nie, maar deur gehalte skole en gehalte-onderwys.
Sampie se grootste bydrae tot my lewe? Vrae wat my maatskaplik-ekonomiese en politiek-morele bewussyn beroer het. My verhoed het om in die web van sekerhede vasgestrengel te raak. Soos wat Voltaire dit ook gedoen het.
Prof. Anton van Niekerk, kollega en vriend
Op 17 April 2013 word Solomon Johannes (Sampie) Terreblance, emeritus professor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch, 80 jaar oud. Sedert die sewentigerjare van die vorige eeu (dus meer as vyf dekades) is die intellektuele, en veral ekonomiese inskatting van Suid-Afrika se sosio-politieke bestel onvoorstelbaar sonder die volgehoue stem van hierdie herout van die Afrikaner se sosiale gewete. Met goeie reg is die eredoktorsgraad wat hy ‘n aantal jare gelede van die Universiteit van die Vrystaat ontvang het, die afgelope week opgevolg met nog so ‘n graad van die Universiteit van Pretoria.
Van die Engelse filosoof Francis Bacon is meermale gesê dat hy gedien het as “the trumpeter of his time”. Hoewel Terreblanche op ‘n heel ander terrein as Bacon sy bydrae gelewer het, bly dié uitdrukking by my steek as tiperend van Sampie. Hy was nooit ‘n aktiewe politikus nie en het nooit ‘n wet deur die parlement gevoer nie. Maar sy kompromielose stem van protes teen die diepgewortelde, skryende, institusionele ongeregtigheid van Suid-Afrika se sosio-politieke en veral ekonomiese orde het oor die jare getrompetter in die verhaal van ons uiteindelike wegdraai van die waansin van apartheid en in die rigting van ‘n meer regverdige samelewing.
Nie dat Sampie ‘n vlekkelose verlede in hierdie verband het nie – wie, wat wit en ouer as 40 is in hierdie land, het? Gebore op Kroonstad op 17 April 1933 (toevallig die geboortejaar van ‘n aantal invloedryke Afrikaner-intellektuele), word hy groot op Edenburg en is van huis uit ‘n produk van die Vrystaat. Hy studeer op Stellenbosch waar hy sy meesters- en doktorsgrade verwerf, en spandeer die akademiese jaar van 1968/69 te Harvard in die VSA. Hy was vir agt jaar ‘n dosent in ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, voordat hy in 1968 permanent op Stellenbosch aangestel is. Met sy aftrede in 1995 was hy die mees senior professor aan die US.
Daarna het nog omtrent 15 jaar van verdere klasgee in ‘n tydelike hoedanigheid op hom gewag. Dit kan sonder vrees vir teenspraak beweer word dat hy een van die mees geliefde, maar terselfdertyd kontroversiële, opruiende en moedswillige dosente was wat die US nog ooit opgelewer het. Wat hy doseer het, was die geskiedenis van ekonomiese denke. Daarmee het hy die denke help vorm van ‘n aantal geslagte studente wat ekonomie aan die US geloop het. Dat hy “hulle denke gevorm het”, beteken allermins dat hulle almal met hom saamgestem het. Daar was altyd ‘n groep in Sampie se klasse wat woedend was vir die wyse waarop hy hulle gevestigde idees uitgedaag het. Maar daarmee het hy juis gedoen wat ‘n goeie dosent doen: om nie klakkelose napraters te produseer nie, maar mense wat vir hulself leer dink, en wat, ook al het hulle hoe skerp van hierdie uitdagende leermeester verskil, gedwing is om goeie redes te probeer vind vir hul eie posisies. As dosent was en is Sampie ‘n legende. Dat hy soveel jare na aftrede sy kursus bly aanbied het, wys eenvoudig dat die Ekonomiedepartement op Stellenbosch – een van die grootstes aan die universiteit – hom net nie kon laat gaan nie.
Maar Sampie se rol is in ‘n veel wyer konteks in Suid-Afrika gespeel as bloot in die klaskamer. Ek het hom in 1971 ontmoet as ‘n matriekseun tydens ‘n veelbewoë jeugkongres van SABRA (Die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede, ‘n destyds bekende dink-tenk van die nasionale regering) op Robertson. Die kongres het opspraak verwek vanweë ‘n toespraak van prof. Gerrit Viljoen, toe voorsitter van die Broederbond en rektor van RAU, waarin hy hom sterk uitgespreek het ten gunste van die ondersoek van die idee van ‘n “Kleurlingtuisland”. Die idee het ‘n vroeë dood gesterf, mede as gevolg van Terreblance se ernstige en openlike verset daarteen.
Later dieselfde dekade is Terreblanche aangewys as lid van die (Erika) Theronkommissie wat die sosiaal-ekonomiese en politieke posisie van die bruinmense moes ondersoek. Terreblanche het in hierdie kommissie veral naam gemaak as skrywer van die befaamde hoofstuk 22, wat gehandel het oor die ekonomiese posisie van die sogenaamde “kleurlinge” – wat, in daardie jare (soos op baie plekke vandag steeds) haglik was. Terreblanche knoop sy vlymskerp analises aan die begrip “chroniese gemeenskapsarmoede” – ook die titel van ‘n boek van hom wat later verskyn het. Hy beklemtoon hoedat armoede, wat die speerpunt van die immoraliteit van apartheid was, ‘n ganse gemeenskap in die ban kan slaan en mense se moed en wil om daaruit te breek, hoe langer hoe meer afstomp namate hulle sosiaal gekondisoneer word om arm te wees. Hierdie werk het Terreblance, wat tot in daardie stadium ‘n lojale Nasionale Partyondersteuner was, in botsing gebring met die eerste minister, mnr BJ Vorster.
Sampie se finale breuk met die NP het gekom na die verklarings wat uitgereik is deur “Besprekingsgroep 85” (wat Sampie gestig het en deurentyd die voorsitter van was, met myself as sekretaris). Die groep het twee ontmoetings met pres. PW Botha gehad. Botha se onversetlikheid oor die kwessie van volle politieke regte vir swartmense in die sentrale regering, sowel as oor die volgehoue aanhouding van Nelson Mandela, het die breuk met die NP onafwendbaar gemaak. Sampie het gevolglik ook ‘n prominente rol gespeel in die veldtogte van die onafhanklike kandidate (Dennis Worral, Wynand Malan en Esther Lategan) in 1987. Mnr Chris Heunis, ‘n goeie vriend van Sampie, se naelskraapse oorwinning van 39 stemme in Helderberg teen Worral, het ‘n onherstelbare stremming op hul verdere vriendskap geplaas. In die laat tagtigerjare is Terreblanche ook genooi om deel te wees van die afvaardiging wat onder leiding van Willie Esterhuyse verkennende samesprekings met die ANC in die buiteland gevoer het, en so die weg help baan het vir die onderhandelinge wat later sou volg.
Sampie se stem in die Suid-Afrikaanse debat het nog sedert daardie jare nooit stil geword nie. Hy is en bly ‘n kontroversiële figuur – nie net wanneer hy klasgee nie, maar veral ookm as hy skryf. Die vernaamste rede daarvoor is sy volgehoue kritiek op die kapitalisme – die “narrre ding”, soos hy dit met sy kenmerkende rollende r’e beskryf. ‘n Sluitstuk van sy analise van die apartheidsbestel is sy idee dat apartheid (veral in die latere fases) intakt gehou is vanweë ‘n bose sameswering met kapitalisme – ten koste van die armes. Die aanbreek van die nuwe Suid-Afrika het geensins sy kritiese stem uitgedoof nie. Wat hom in sy latere werk teen die bors stuit, is die wyse waarop die nuwe bewindhebbers in Suid-Afrika opnuut gekaap is deur kapitaliste, en dat ‘n meer regverdige herverdeling van rykdom also verhinder word.
Nie almal stem met hierdie analises saam nie. Maar ’n mens kan nie op ‘n werklik ingeligte manier oor hierdie land se ekonomiese uitdagings dink sonder om jouself deeglik te verantwoord oor Terreblanche se posisie nie. Hy bly ‘n onontwykbare verwysingspunt in terme waarvan enige ekonomiese analise van die land sigself moet oriënteer – al verskil ‘n mens inhoudelik hoeveel ook van hom.
Op die persoonlike vlak is Sampie een van die mees onderhoudende geselsers wat ek die voorreg het om te ken. Die rede daarvoor is veral sy ensiklopediese kennis van die geskiedenis en sy vermoë om beduidende datums en historiese gebeure te onthou. Ek sluit daarom af met die boeiendste verhaal wat hy my ooit vertel het. Hy het naamlik as 16-jarige, vurig-nasionalistiese Voortrekker-verkenner die inwyding van die Voortrekkermonument op 16 Desember 1949 bygewoon, waar dr Malan sy beroemde “Quo vadis?” toespraak gelewer het. Wat egter ten onregte meesal vergeet word, is dat general Smuts, wat 18 maande gelede die verkiesing verloor het, ná dr. Malan gepraat het. Smuts is uiters disrespekvol deur ‘n groot groep in die gehoor (‘n kwartmiljoen mense) behandel; mense het naamlik in groot getalle begin padgee en uitloop, smalend sodat hy (Smuts) dit duidelik kon sien. Die seremoniemeester, dr EG Jansen, moes, om die situasie te probeer red, die mikrofoon in ‘n stadium by Smuts neem en ‘n beroep op die mense doen om nie almal te loop nie, “anders sal daar niemand oorbly om na my te luister as ek die bedankings later moet doen nie”!
Sampie vertel dan dat as jy vandag weer daardie toespraak van Smuts lees, en jou oë toemaak, is dit asof jy vir FW de Klerk in die 90er jare hoor: “kom ons soek die dinge wat ons verbind, en nie wat ons skei nie; kom ons begin ‘n groot indaba oor die toekoms”, ensovoorts.
“Ja”, sug Sampie dan,”sê nou net Smuts het in 1948 gewen. Hoe sou Suid-Afrika vandag gelyk het…?”
Prof. emeritus Lourens du Plessis, regskollega en vriend
Ek het Sampie leer ken tydens my twee dekades as regsprofessor op Stellenbosch, vanaf 1987 tot 2011. Anders as ‘n skaar van bevoorregte studente oor baie jare, kan ek nie op my CV skryf dat dié legendariese professor my onderrig het of dat ek onder sy leiding nagraads studeer het nie. Hy is ‘n leermeester oor wie en met wie studente maklik kommunikeer en as jy hom eers aan die gesels kry oor sake van die dag of kwessies wat hom na aan die hart lê (en by Sampie is daar nie juis ‘n verskil tussen die twee nie) sit hy nie maklik ‘n wag voor sy mond nie. Ek onthou byvoorbeeld ‘n geleentheid waar hy ‘n groep buitengewoon begaafde, besoekende Amerikaanse studente aan sy lippe laat hang het met sy goed gemotiveerde diagnoses van die akute en chroniese mankemente van liberale kapitalisme. Sampie is die een wat (onopsetlik en onwetend) my as ‘n reeds relatief gevestigde akademikus gehelp het om die laaste konseptuele hindernisse op die pad na sosiaal-demokratiese denke te oorkom. In die oë van baie is hy ‘n “boerekommunis”. Vir my is hy ‘n baie gesofistikeerde analis – met ‘n passie vir en besorgdheid oor die lot van sy agtergestelde landgenote en ander lydendes wêreldwyd.
Almal wat Sampie ken, weet hoe ekspressief en driftig hy soms kan word. Ek onthou ‘n keer waar hy voor ‘n gehoor verwys het na die “kruipende armoede” wat besig was om die “galoppende armoede” te word – en soos dikwels met Sampie het sy hele liggaam saamgepraat sonder om op ‘n nar-agtige manier sy waardigheid te kompromitteer.
Sampie is ‘n entoesiastiese gespreksgenoot en waar hy aan ‘n eettafel ‘n gas is, kan niemand ooit van verveling kla nie. Gesprekke met Sampie is konstruktief. Selfs sy grappe is nie sommer maar net snaaks nie maar is deurdrenk van slim humor.
Sampie het ‘n benydenswaardig lewendige en lewenskragtige historiese geheue. Mens sien dit onder meer in sy vermoë om, dag en datum, gebeurtenisse van weleer akkuraat te herroep en persoonlikhede wat nie meer met ons is nie te laat herleef. So skep hy ‘n konteks wat ons help om die geskiedenis van ‘n eie leefwêreld wat ons maak (en nog moet maak) beter te begryp en te antisipeer. Ek het hoë agting vir Sampie as historikus en ek glo dat sy belangstelling in die politiek sterk aangewakker word deur sy vaardighede en voorliefdes as historikus.
Ek het op ‘n Stellenbosch aangekom in die tydvak waarin op politieke gebied die “verligtes” en die “oorbeligtes” die strydbyle aan’t begrawe was. Van die detail van die (politieke) botsings tussen verligte nasionaliste wat geneem het die Nasionale Party-regering kan en moet “van binne” hervorm word en die oorbeligtes wat ‘n demokrasie met gelyke regte vir almal voorgestaan het, weet ek hoofsaaklik van hoorsê.
Die verligtes was jarelank die leidende politieke establishment in Stellenbosch met Sampie Terreblanche, toe nog ‘n stoere nasionalis, as een van die leidende figure in hierdie geledere. Die oorbeligtes het, anders as die verligtes, nie die oor van belangrike persoonlikhede in die regering gehad nie.
Die verhaal van hoedat in die verkiesing van 1987 prominente figure uit verligte en oorbeligte geledere in Stellenbosch besluit het om hande te vat om die sittende NP volksraadslid te probeer ontsetel, is algemeen bekend. Dit was in hierdie periode wat Sampie sy bande met die Nasionale Party establishment verbreek het. Soos sy geaardheid is, het hy hierdie oorgang geesdriftig en met oortuiging gemaak en sterk morele moed aan die dag gelê. Ek het hom by verskillende geleenthede in die openbaar en in privaatgesprekke hoor sê – en hy doen dit nou nog – dat sy politieke keuses en optrede vir baie jare lank fundamenteel verkeerd was en dat sy oë nodig gehad het om oop te gaan om werklik te kon raaksien hoedat sy mededaderskap aan apartheid miljoene landgenote benadeel.
Sampie, die boetvaardige, is egter nie ‘n goedkoop sentimentalis nie. Altyd sal sy ywer vir die saak van ‘n regverdiger Suid-Afrika en wêreld dít wat hy sê en dink inspireer, en sy luisteraars tot aksie aanspoor. Dit is ‘n voorreg om so ‘n vriend te hê en sy tagtigste verjaardag saam met hom te kan herdenk!