Solomon Johannes Terreblanche 17/4/1933–17/2/2018, omstrede én geliefde prof Sampie, Afrikaner, ekonoom, skrywer, onderhandelaar, kritiese stem teen ongeregtigheid is verlede Saterdag aan breinkanker op Stellenbosch oorlede. ’n Legende.

So kon hy sy skouers optrek, sy kop laat sak, jou priemend aankyk – en passievol pleit om tog te verstaan dat dit nie só kan aangaan nie.

Hy was die stem vir die underdog, die armes, en hy het gewaarsku teen die gevaarlike vaart van toenemende rykdom. “Jy kan mos sien dis ’n ramp, ’n groeiende ongelykheid,” sou prof Sampie dringend uiteensit, koppie tee in een hand, piering in die ander.